BOODSKAP VAN DIE BESTURENDE DIREKTEUR VAN LEFRA KOMMUNIKASIE EN BEMARKING, FRANS SWART

 

Geagte Revue Organiseerder

REVUE 2016

Baie dankie vir u belangstelling in REVUE SA 2016 – Lefra Produksies se Nasionale Revuekompetisie wat by Carnival City se Big Top Arena aangebied gaan word in September 2016.

Laerskole en hoërskole spandeer elke jaar baie groot begrotings aan hul revues, want dit is gewoonlik die groot bemarkingsprojek vir die skool. Daar word vir maande repeteer, geskaaf, kostuums word gemaak, sang opgeneem en choreografie gedoen. Met groot opwinding word die revue vir ‘n week of wat opgevoer. Na al hierdie energie en harde werk, is die revue na ‘n week verby. Almal betrokke, se harte is dan seer, want soos met enige verhoogproduksie, word ons mos familie. Dit is glad nie lekker as “familie” uit mekaar moet gaan nie.

Juis daarom het ons hier by Lefra Produksies besluit om ‘n verdere lewe aan skole se revues te gee met REVUE SA 2016. Hierdie is ‘n nasionale revuekompetisie wat by Carnival City se Big Top Arena aangebied gaan word in September 2016. Sien spesifieke datums hieronder. Ons besef skole is baie besig en ons kom ook laat in die jaar by u aan met hierdie opwindende kompetisie. So, ons sal redelik buigbaar kan wees ten opsigte van u eie optreedatums om u eie aktiwiteite te akkommodeer. Die spesiefieke datums is as volg – en onthou u skool gaan net op een aand optree. Indien u skool sou deurdring na die Semi Finale en Finale, beteken dit natuurlik nog optredes. Die datums is as volg:
Laerskole: 5,6,7 September 2016
Hoërskole: 12,13,14, September 2016
Semi Finale en Finale: Laerskole – 19 September 2016, Hoërskole – 20 September 2016
Finale: Laerskole en Hoërskole: 21 September 2016

Lefra Produksies nooi alle laerskole en hoërskole uit om nou in te skryf vir REVUE SA 2016. Ons het alreeds heelwat navrae gehad van kleuterskole wat ook hulle revues wil inskryf. Ongelukkig sal ons nie hierdie jaar kleuterskole kan akkommodeer nie, maar ons gaan beslis poog om so ‘n kategorie in 2017 te skep.

Die kompetisie gaan op ‘n uitdunbasis aangebied word en daar sal ook ‘n mate van ‘n realiteits-televisiereeks in die aanbieding wees. Ons aanbieders en beoordelaars gaan van hoogstaande gehalte wees en gaan ook diep spore in die bedryf getrap het. Hierdie name word eersdaags bekend gemaak.

Behalwe dat die kompetisie as “Nasionale” kompetisie aangebied gaan word en u deelnemers dus ook “Nasionale” erkenning sal verkry is daar lekker pryse op die spel. Ons glo egter dat die ervaring om met die beste revues in die land skouer te skuur, nuwe vriende te maak, van mekaar te leer en om op die grote Carnival City verhoog op te tree, die lekkerte van hierdie Revuekompetisie sal wees.
Ons sluit vir u die volgende dokumente in wat al u vrae behoort te beantwoord:

  1. Reëls en Regulasies – spandeer asseblief genoeg tyd om hierdie dokument van hoek tot kant te bestudeer aangesien hierdie dokument die basis van ons kompetisie vorm;
  2. Inskrywingsvorm – voltooi asseblief so gou as moontlik en stuur vir ons terug.
  3. Beoordelaarsvorm – hierdie een is belangrik om vir u ‘n definitiewe aanduiding te gee waarna die beoordelaars gaan kyk en op watter aspekte hulle gaan beoordeel.
  4. Kontrolevorm – hierdie is maklike aftiek vormpie soos wat u die inskrywing hanteer – net om seker te maak alles is gedoen!

Baie belangrik! Die sluitingsdatum is Vrydag, 26 Augustus 2016 om 16:00. So voltooi u inskrywingsvorm onmiddellik en stuur vir ons aan.

Indien daar enige vrae oor REVUE SA 2016 is, kan u gerus vir Monica Booysen skakel by (011) 815 3000 of epos gerus aan Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. en ons beantwoord onmiddellik u vrae. Gaan loer ook gereeld by ons webtuiste www.revues.co.za vir nuwe inligting oor REVUE SA 2016.

Ons hoop ons kan u REVUE verwelkom by vanjaar se Nasionale Revuekompetisie by Carnival City.

Met vriendelike groete

FRANS SWART APR
HOOF UITVOERENDE BEAMPTE

Lefra Kommunikasies en Bemarking | Kopiereg © 2019. Alle Regte Voorbehou.